Nuttige Wenke vir Ouers

Top 10 wenke van ons Vroeë Kinderontwikkelingsdeskundiges

 

Ons het ons Slimkoppe-paneel van Vroeë Kinderontwikkelingsdeskundiges gevra om ’n paar wenke vir ouers van voorskoolse kinders aan die hand te doen. Al hierdie voorstelle kan maklik tuis ingespan word om jou kind te help om sukses te behaal op pre-primêre vlak en later in die “groot skool”.


1. Help jou kind om opdragte uit te voer Sorg dat jou kind na jou kyk en aandag gee voordat jy vir hom of haar ’n opdrag gee. Vra die kind om die opdrag te herhaal ten einde seker te maak dat hy of sy geluister het en verstaan wat verwag word. Probeer om kort, duidelike instruksies te gee om dit makliker te maak vir die kind. Party kinders sukkel meer as ander om instruksies uit te voer. Gebruik gerus ’n beloningskaart om jou kind te motiveer om sy of haar samewerking te gee.


2. Vestig ’n roetine Die meeste kinders, veral kinders wat sukkel om aandag te gee, vind baat by struktuur en roetine. Die beste tyd om ’n roetine tuis te begin skep, is voordat die kind skool toe gaan. Dit gaan dikwels maar dol soggens voor werk en skool, en die hele gesin sal voordeel trek uit ’n vaste roetine wat die gebruik van die badkamer, ontbyt eet en tasse pak vir die dag betref. Volg indien moontlik elke middag ’n soortgelyke roetine ten opsigte van eet, speel en moontlik hulp verleen met huistakies. Probeer ook om die aandroetine konsekwent te hou wat aandete, badtyd en slaaptyd betref. Sodra ’n vaste oggend-, middag- en aandroetine gevestig is, behoort dit makliker te wees om jou kind aan te moedig om te help met take soos die inpak van die skooltas vir die volgende dag, sy of haar eie bed opmaak of tafeldek vir aandete. Sommige kinders onthou beter met behulp van visuele leidrade. Maak gerus ’n plakkaat van wat alles moet gebeur terwyl jy ’n oggend-, middag- of aandroetine vestig. Tekeninge of foto’s werk uitstekend. Plak byvoorbeeld die volgende reeks prente teen jou kind se kasdeur: wekker (word wakker), toilet, trek aan (vir party kinders sal jy hul klere in die korrekte volgorde op hul bed moet uitpak), eet ontbyt, was gesig en borsel tande, pak skooltas in, gaan skool toe. As jou kind sukkel met ’n spesifieke deel van die roetine, kan jy ’n plakkaat van net daardie gedeelte maak. Hoewel dit miskien aanvanklik tydrowend mag wees om so ’n plakkaat te maak, sal dit op die lange duur almal se stresvlakke verlaag en later baie trane voorkom.


3. Doen oefening saam met jou kind Probeer om geleenthede te skep sodat jou kind tuis liggaamlik aktief kan wees. Indien julle die nodige geriewe het, is swem, trampolien spring of swaai uitstekende oefening. So nie kan julle saam park toe of winkel toe stap, of ’n paar minute per dag aan sport deelneem wanneer jy tuis kom na werk. Sodoende word oefening ’n prettige gesinsaktiwiteit.


4. Ontwikkel geleidelik jou kind se onafhanklikheid Dit is belangrik om onafhanklikheid op soveel moontlik terreine aan te moedig, maar dit kan ook ’n bron van stres en frustrasie vir jou as ouer word. Dit is dikwels beter om geleidelik onafhanklikheid te kweek deur jou kind aanvanklik met sekere aktiwiteite te help. Gestel byvoorbeeld Jannie sukkel om soggens wakker te word. Sy ouma maak hom elke oggend wakker en sê hy moet aantrek. Wanneer sy 10 minute later gaan kyk of hy al klaar is, staar hy nog steeds deur die venster. Jannie kry dan raas, Ouma raak gefrustreerd en die hele gesin is laat vir hul oggendverpligtinge. In so ’n geval sal dit miskien beter wees as Ouma Jannie help om te begin aantrek en elke paar minute kom inloer om seker te maak dat hy nog aan die gang is. Saans en naweke wanneer die program minder druk is, kan hy aangemoedig word om meer onafhanklik te funksioneer.


5. Help jou kind om sosiale vaardighede te oefen Sommige kinders wat las het van impulsiwiteit en hiperaktiwiteit sukkel ook met sosiale interaksie. Hulle het dikwels meer leiding nodig as ander kinders oor wat toepaslike gedrag is en wat nie. Probeer om in die loop van die dag geleenthede te skep om as gesin met mekaar te gesels. Dit is ’n goeie geleentheid om die beginsel van beurte maak tydens gesprekke vas te lê. Voorbeelde van gespreksprikkels sluit in: “Wat was die lekkerste en die slegste deel van jou dag?”, “Wat was die snaaksste ding wat vandag met jou gebeur het?” en “Waarna sien jy uit wat môre gaan gebeur?”. Sorg dat elkeen ’n beurt kry om elke vraag te beantwoord. Dit is ook belangrik om beurtmaakvaardighede in ander situasies te ontwikkel. Maak gerus tyd in die loop van die week om as gesin speletjies soos Snap, Domino’s of Slangetjies-en-leertjies te speel.


6. Begin jou kind se getalbegrip ontwikkel Die beste manier om jou kind se getalbegrip te ontwikkel, is om gereeld kaart-, dobbelsteen- en bordspeletjies te speel. Maak die kind bewus van getalle deur sy aandag op getalle in die omgewing te vestig. Wys byvoorbeeld vir hom die huise langs die strate se nommers en die syfers op motors se nommerplate en verjaardagkaartjies. Sing liedjies oor getalle saam met jou kind terwyl hy of sy aantrek of terwyl julle in die motor ry. Gebruik gerus saamsing-CD’s as jy nie geskikte herhalende liedjies met getalle ken nie. Wys vir jou kind die syfers op muntstukke en geldnote. Hy of sy sal dit geniet om winkel-winkel te speel met speelgeld!


7. Help jou kind om vorms en patrone te soek en driedimensionele voorwerpe te bou Soek saam na patrone in die natuur, byvoorbeeld die een helfte van ’n skoenlapper vertoon dieselfde patrone as die ander helfte. Soek vorms in die wêreld rondom julle, byvoorbeeld ’n mens kry tafels en stoele met verskillende vorms, fotorame het verskillende vorms, ensovoorts. Vestig jou kind se aandag op die patrone op T-hemde, gordyne, tafeldoeke, ensovoorts. Koop of maak boublokkies sodat jou kind driedimensionele vorms kan ervaar. Speel eenbeentjie (“hopscotch”) buitekant en benoem die onderskeie vorms wanneer jou kind daarop spring. Gee vir jou kind konstruksiespeletjies en –speelgoed waarmee hy verskillende voorwerpe soos ’n vuurpyl, motor, robot of gebou kan bou. As julle nie konstruksiespeelgoed het nie, kan julle kartondose, toiletrolletjies en bottels gebruik om voorwerpe te bou. Bou legkaarte saam met jou kind. Begin met legkaarte wat net uit ’n paar stukke bestaan, en vorder geleidelik totdat hy legkaarte van 24 of meer stukke kan baasraak.


8. Speel woordeskatspeletjies Neem ’n pypskoonmaker en maak ’n wurm daarvan. Plaas ’n kartondoos op die tafel en speel “Waar is Wouter Wurm?”. Vra die kind om vir Wouter Wurm bo-op, onder, langs, in, uit, voor, agter, in die middel van die kartondoos weg te steek; om hom tussen die kartondoos en ’n ander voorwerp te plaas; en langs, links van, regs van die kartondoos. Wys vir jou kind hoe Wouter op/af teen die kartondoos kan seil en aan die bokant/onderkant kan sit. Wys vir hom of haar dat ’n plat bladsy ook ’n bokant en ’n onderkant het.


9. Lees saam Lees stories en niefiksieboeke saam met jou kind. Dit is belangrik dat jou kind leer hoe om boeke versigtig te hanteer en dat hy of sy ontdek dat ons van links na regs lees. Kinders moet ook agterkom dat daar ’n verhouding bestaan tussen die woorde wat ons sê en geskrewe woorde.     Vra vir jou kind vrae oor die stories wat julle lees om sy of haar vroeë begripsvaardighede te ontwikkel. Dit is ook belangrik om te leer voorspel wat moontlik volgende in ’n storie gaan gebeur. Begin deur na die buiteblad van die boeke te kyk en vra die kind waaroor hy of sy dink die boek gaan. Vra dat vir die kind wat hy of sy dink volgende gaan gebeur terwyl jy die storie lees. Die illustrasies van stories is ook baie belangrik. Wanneer jou kind later leer lees, sal hy of sy die visuele leidrade in die prente moet kan vertolk. Begin om hierdie vaardigheid te ontwikkel deur vrae te vra oor die prente. As ’n kind van kleins af graag na stories luister, sal hy of sy ’n baie groter begeerte hê om in Graad 1 te leer lees.


10. Ontwikkel ’n liefde vir leer Jou kind sal sy of haar skoolloopbaan baie meer geniet as hy of sy dit geniet om te leer. Maak leer pret deur kleurryke leermateriaal soos eenvoudige flitskaarte en aktiwiteitsboeke aan te skaf. Gebruik dit saam met jou kind en moet hom of haar nooit teen sy of haar sin dwing om aan te hou werk, of om aktiwiteite te doen waarvoor hy of sy nie gereed is nie. As die kind nie ’n aktiwiteit wil doen nie, is hy of sy waarskynlik nog nie gereed vir daardie ontwikkelingsvlak nie. Moenie stres daaroor nie! Keer bloot oor ’n maand terug na die aktiwiteit en kyk of die kind dan gereed is daarvoor. Raadpleeg altyd jou kind se voorskoolse onderwyser of jou huisdokter as jy bekommerd is oor jou kind se ontwikkeling.  

Bron van informasie

Spreuke 10 vers 9 : Wie 'n reguit pad loop is 'n gelukkige mens, kronkelpaadjies bring jou in groot ellende.